Friday, July 9, 2010

15 Junie 2010

Dis Dinsdag en dit beteken markdag op Valence d’Agen. Ons maak reg en is net na 10 op die mark. Valence d’Agen het uit haar Maandag sluimer ontwaak en dis bedrywig op die mark.
Weereens is ons verstom oor die blinkpers skoonheid van die aubergines, die blos op die appelkose se wange en die kraakvars kors van die brode. Ankia kry haar gewone rondte ‘homage’ in die vorm van ‘n sakkie kersies, ‘n stuk koek en ‘n sauccison. Kobus doen weer sy kookboekrondte en ek kan weereens myself nie help nie, en ons keer terug boot toe oorlaai met ‘booty’.
Die son begin net-net deurbreek en loer elke nou en dan vir ons oor die rand van ‘n grys, baie grys wolk. Dis moeilik om die weer te lees, want hy maak beloftes soos ‘n Franse minnaar. Van reen, van sonskyn en altwee gaan definitief gebeur, ‘mon Cherie!”
Ons besluit om die kans te vat, wat “you only live once’ en van water kan mens nie smelt nie. En ons saal die fietse op met piekniekproviant. Ons fiets na Auvillar, 6 km weg, op ‘n berg. Ons ketting die fietse aan die voet van die berg en stap die laaste steil km met ‘n kronkel kobbelsteen straatjie uit. Auvillar verwelkom ons met ‘n oordadigheid van blomme orals waar ‘n bietjie grond ‘n blom kan laat blom. Dis te fraai. En ons word beloon met die pragtigste uitsig oor die Garonne vallei. Die weer kom sy son belofte na en ons hou heerlik piekniek. Ons ontdek die dorpie se middeleeuse driehoekige, bedekte markpleintjie. Die skewe huisies langs die markplein het almal wit St Jaques skulpies op, wat steeds die Compostella pelgrims innooi net soos hulle al vir honderde jare doen. Auvillar is ‘n belangrike stop op die bekende peldrimstog.
Ons fiets terug deur veld en vallei en toe kom die weer sy reenbelofte na. Maar die druppels is baie minder as die sonstrale wat ons vandag gehad het.
Terug by die boot, was ons gou dek en maak die watertenk vol en trek weg met volle vaart. Dit wil se teen 8 km/hr. Ons wil nie weer vanaand in die besige kaai slaap nie, maar eerder erens langs die kanaal weg van alles en almal, soos laas.
Ons werk sommer tjoef-tjaf deur 4 sluise. Ek is nou al ‘n ‘old hand’ en soos die res van my familie ‘n koel komkommer as dit by kanaalsluise kom. Ons meer vas op ‘n idilliese plek, ver van ‘n pad, maar naby ‘n treinspoor, besef ons gou. Die ander verkeer is die Compostela pelgrims want ons meerplek is reg langs die roete. Maar hulle pla ons min.
Ons vat almal ‘n vinnige, warm stort (ons het dit gou geleer) en Kobus begin weer kook. Vanaand is dit Franse varkbredie. Die kinders speel te lekker in die woud. Ek sit en pop die een sappige kersie na die ander in my mond en proe hoe soet sonskyn proe. Salig.
Kobus se varkbredie is nou werklik iets om oor huistoe te skryf en dis presies wat ek nou doen. Dis selfs beter as sy hoender in die pot. Poeding is Tarte de la Prune vriendelik verskaf deur die bakker van vanoggend se mark. En erens naby Bordeaux het ‘n wynmaker sy deel gedoen om vanaand se ete onvergeetlik te maak, net soos hierdie vakansie is. Onvergeetlik.

------------------------------

No comments:

Post a Comment