Ons word wakker in Agen se kaai met kerkklokke wat beier. Dis Sondag. Dis al half nege, maar dis vakansie, so ons gee nie om nie. Ons staan luilekker op en eet ‘n regte Franse ontbyt met vars baguette en hope camembert. Wie gee tog om hoe laat dit is???...behalwe die Franse, besef ons elf uur, natuurlik! Op ‘n Sondag maak alles 12 uur bot dig toe. Hulle neem die “rus” van die rusdag baie ernstig op (dis al wat hulle van die dag ernstig opneem!) soos ons goed onthou toe ons laaskeer in Frankryk myle en myle moes ry op soek na ‘n koekie seep op ‘n Sondag en dit toe by die enigste “nood”-apteek in die provinsie kon vind.
En ons moet kos he, voor ons groot reis. Groot reise sonder kos, realiseer net nooit as groot nie. Ons gryp ons sakkies en die kinders aan die hand en hol af met die straat en ontdek aan die einde daarvan, ‘n mark.
Watter wonderlike gesig groet ons nie, en hoe vriendelik word ons nie gegroet nie! “Bon jour Madame M’sieur!” Al wat ‘n boer is, is daar met sy produkte en almal wat eet in Agen is ook daar. Agen se fantastiese “groente en vrugte en vleis en brood en koek en kaas en tert en saucisson en alles wat ongelooflik heerlik is “ mark. Dit is ‘n belewenis van kleur en geur en smaak en baie vriendelike Franse. Franse wat hulle min steur aan die Europese Unie en BTW en al daai jazz. ‘n Mark is ‘n instelling, is ‘n manier van lewe in Frankryk. Alles is mooi en vars en niks is duur nie. Ek koop ‘n kg dieprooi kersies vir 2.50 Euro. En na my eerste kopie is daar geen keer aan my nie. Ek koop aarbeie, uie, brode, kase, tamaties en nog tamaties (want hierdie lyk nog lekkerder), veldslaai en knoffel. Die knoffelkopery is nogal aardig. Ek se op my beste Frans vir die knoffelboer: “Une ail sie vous plez.” En hy haal sommer ‘une’ hele bossie af. Wie’t nou al ooit in Frankryk net een bol knoffel op ‘n slag gekoop, dit sal jou nie eers een ete hou nie!
Kobus ‘stroll’ deur die mark met sy nuwe kookboek “Goosefat and Garlic”. Hy lyk soos ‘n man met ‘n plan en hy koop met ‘n rede en ‘n lys. Nie soos ek op blote sig en emosie nie.
Ankia ‘score’ ‘n pakkie kersies en ‘n stuk koek. Sy draai die Franse omies en tannies om haar pinkie met haar blou ogies en vlegseltjies. Sy is net ‘ma petite belle’ moet ons heeltyd hoor. By die Eiffeltoring kon die souveniersmous nie anders as om vir haar ‘n pienk Eiffeltoringkie te gee nie, en my ‘n kyk van ‘hoe kan jou hart so hard wees?’, toe ek weier om aan haar gesanik toe te gee. By Disneyland gee die oom vir “une Princesse” ‘n ekstra groot “Barras de Papa”. Die oom by die bootmaatskappy gee dadelik vir haar ‘n bootpuzzle, wat “mere mortals” soos ons moet koop. En vandag kry sy ‘n sakkie kersies, want ag, se die tannie, sy is darem maar so mooi. Ek sal haar definitief saamvat as ek die dag moet gaan bedel!!
Na ons, ons markskatte weggepak het in ons boot en besef het, maar ons yskas is ‘n heeltemal te klein skatkis vir al ons verruklikhede, ons beter hulle eet, fiets ons Agen in, opsoek na ‘n supermark om aan ons minder gastroniese behoeftes te voorsien soos skottelgoedseep en pleisters. Maar dis, o wee, na 12 en sonder sukses keer ek en die kinders terug. Kobus gaan ‘scout’ hoopvol verder en het meer sukses.
Ons vaar Agen uit en die pragtigste tonele skuif soos poskaarte verby die bootvensters. Ons chuck-chuck teen 8km/hr (dis die spoedperk op kanale) en die kinders baljaar buite al om die dek. Kobus gee hulle elk ‘n beurt om te bestuur. Die son lag in die hemel en toe doem die eerste sluis voor ons op. Of eerder, die sluis doem net voor my op. Die ander 3 is heel opgewonde oor die vooruitsig. Ek hou repetisie in my kop oor wat die antie van die bootmaatskappy my geleer het, van watse tou ek eerste waar moet vasmaak en terug gooi hoe. Maar toe dit by oorboordspring kom na die kant om die toue vas te maak, is al daai toue net ‘n koekerasie saam met die senuwees in my kop! Die ander 3 Van Zyle is egter heel koel komkommer en verseker my, als sal reg uitwerk. Net ek wat oorkook en rondbons op die wal!!
Gelukkig kom ‘n ander boot agter ons in die sluis in. ‘n Deense omie en tannie “met net haar bra aan” soos Jean beskryf. Maar ek gee nie om of sy ‘n bra aan het of nie. Sy is ‘n gesoute tannie as dit kom by bote deur sluise help en sy is gaaf en sy help my die toue reg vas maak – maak my nou rerig ‘touwys’. En ons kom sonder enige konsternasie deur ons eerste sluis.
By die tweede sluis is die Deense ‘bra’ tannie weer daar om te ‘supervise’ en ek kry dit al goed reg (nog nie sonder senuwees nie). En toe ry ons deur ‘n pragtige woudagtige deel en ons besluit dit word vasmeerplek vir die aand. Ons kry vasgemeer sonder enige katestrofes en gooi die loopplank aan wal. Die kinders jol te lekker langs die boot in die woud. Kobus trek sy “Goosefat and Garlic” nader en pak skatte uit die yskas. Hy beginne te kook en ek sien hier is ‘n meesterstuk aan te koke. Ek beter myself en die kinders uit die voete maak, steurasies sal dalk die smaak belemmer. Ons gaan fiets terwyl ons die heerlike geure uit die boot van ver af ruik.
Daar is ‘n fietspad al langs die kanaal. Op een plek ry ons verby ‘n kasteel op ‘n heuwel met goue koringlande al om. Voel asof ek net my oe kan knip en in die middeleeue kan intrap.
Kobus se aandete van rofweg vertaal “Hoender in die pot” is ongelooflik. Dis alweer die sousie wat die ding doen. Daar kom die eienaardigste goed saam met die hoender in die pot, maar die hoender is die sous werd!
Die son sak oor die kanaal en ons vaar droomland in, terwyl ons bootjie erens tussen hier en nerens op ‘n kanaal ons aan die slaap wieg.
------------------------------
No comments:
Post a Comment