Ons moet vroeg uit die kooi, altans vroeg vir vakansie. Toe die selfoon se wekker 6:00 lui, is ek min lus vir opstaan. Dis nie die Paryse reen wat lustig op die solderhotelkamer se dak dans, wat my dieper die vere laat induik nie. Dis die wete dat tussen hierdie snoesige hotelbed en my wiegende bed erens op ‘n kanaalboot in die suide van Frankryk le ‘n laaang reis, met baie swaar tasse en stelle en stelle trappe in diep Paryse moltreinstasies, sonder die genade van een roltrap of een hysbak.
Ek le in my bed en wonder, wat maak rolstoelgebonde mense? Ry seker nie op moltreine in Parys nie. Seker wat mense met 2 kinders, vier groot tasse en 4 rugsakkies moet doen – nie op moltreine in Parys ry nie! Maar die ou gedoemde gedagte van wat die taxifooi tussen hier en Montparnasse stasie is vir 4 mense met 4 swaar tasse en 4 rugsakkies, laat my kietsregop in my bed sit. En ek besluit op die moltreine sal ons ry en dan kan ons onsself liewers erens beloon met ‘n fantastiese ete (of 3!) by ‘n auberge, ekwivalent aan die taxi fooi. Ek moet bieg, ek het hierdie besluit, diep en innig berou, deur die loop van die oggend, met tasse by trappe op en af sleep, met kinders aanjaag die moltrein in, voor die deure toeslaan, met staanplek en vasklou plek probeer kry met tasse en kinders tussen honderde Parysenaars op die moltreine. Dan het ek geweet, die grootste taxifooi in die wereld sou die moeite werd wees, letterlik al die pad!!
Toe ons by Montparnasse stasie, die laaste stel trappe uitstrompel en sleep, op die vlak waar ons uiteindelik moet wees, is my hemp so papnat gesweet, en ek so “hot and bothered” dat my hemp uittrek en oor die naaste tas hang. Sonder om te blik of te bloos (was te rooi in die gesig om enige blos merkbaar op my wange te maak) staan ek skaamteloos in my frokkie op Montparnasse stasie, tot ek afgekoel het, en toe trek ek darem my reenbaadjie aan. Die hemp het ek net daar laat wapper aan die tas.
Kobus moes met die geel elektroniese (veronderstelde outomatiese) masjiene gaan stoei om ons voorafbespreekte en betaalde kaartjies uit hulle te kry. Ek besef, die kinders het in die oggend se harwar nog nie eers ‘n krummel ontbyt gehad nie en erger nog, ek het hierdie Groot Trek, onder Parys deur, sonder ‘n druppel koffie oor my lippe aangepak! Ek kry ‘n pak “Monster Munches” in die een sak, en tot Ankia se groot vreugde word dit ontbyt. Kobus het darem, na hy as oorwinnaar uit “Robot Wars” getree het, vir ons iets meer voedsaam in die vorm van broodjies en koffie (vir my!) by die stasie cafe gekry.
Skaars die laaste druppel koffie gesluk of ons moet afsit langs die honderde meters TGV af, om uiteindelik ons wa te vind en van ons pakkaas onslae te raak en dankbaar op ons stoeltjies neer te syg. Die TGV vlieg (letterlik voel soos vlieg so vinnig is dit) deur Frankryk, en voor ons oe uitvee, moet ons die laaste ‘stress’ heuwel oor op St Jean stasie in Bordeaux, met minder as 13 minute, om ons oor te stap (en te sleep) en onsself en ons pakkaas op die trein na Agen te kry. Toe ‘n paar benoude oomblikke, toe ons ontsyfering van die Franse afkondiging aan die begin van die rit, ons laat verstaan, dat hierdie tjoek nie op Agen stop nie. ‘n Vriendelike kondukteur stel ons gerus.
Agen is ‘n lieflike stadjie wat ons met sonskyn en ‘n porseleinblou hemel groet. Ons eet sommer middagete by die stasierestaurant en die gedagte van die einde van die reis, die vooruitsig van die kanaalbootreis, laat die bier sommer lekkerder proe en die son helderder lag. Die mense is baie vriendelik en praat nie een woord Engels nie. Nes dit hoort in die Franse platteland.
Die laaste trek met die tasse vanaf die stasie tot by die kaai, ‘n paar honderd meter of so, is nie swaar nie, net koddig. Ek loop heelagter in ons tou van vier en is geseend met die gesig van ons 4, op ‘n piepklein sypaadjie, waarop die tasse nie pas nie, langs ‘n besige pad. En elkeen sleep ‘n tas. Kobus 2, een voor en een agter.
Die einde van die reis is ‘n vreugde, soveel soeter omdat daardie tasse so swaar was. Ons neem intrek van ons boot. Alles is daar. Die kombuis is goed toegerus. Die vriendelike mense van die bootmaatskappy (Locoboat) wys ons als wat oop en toe maak in beter en slegter Engels. Le Capitaine Kobus kry sy eerste (en enigste) karnaalboot (soos Ankia se) les. Die inkopielys wat ek vir die mense laasweek uit SA ge-epos het, het gerealiseer in die yskas en koskas. Fantasties!
Kobus maak vir ons, ons eerste bootmaaltyd wat ons in die skemeraand op die boot se dek geniet saam met ‘n bottel sjampanje.
Toe die son sak oor die Garonne kanaal se water, sak ons dankbaar in ons kraakvars wit bedjies met genoegdoening. En ons dink terug aan ons Paryse bedjies van vanoggend, wat nou so ver is. Uit die kajuitvenster, sien ek die swaeltjies swiep oor die skemerwater. Ek dink terug, aan net ‘n paar weke gelede in Vishoek, toe ek en die kinders eendag gesien het, hoe die swaeltjies noorde toe vlieg, en geweet het dis winter in die Kaap. Nou het die swaeltjies ons hier in die somer in Agen kom inwag.
------------------------------
No comments:
Post a Comment