Friday, July 9, 2010

14 Junie 2010

Die voeltjies in die woud sing hulle longe uit, maar al wat wakker word, is ons. Toe die laaste voeltjie hees “tjrrrrriiiiiip!!!” en die son al hoog sit, word ons eers wakker. Dis al 9 uur. Jean is al lankal op en het hoopvol al die ontbyt tafel reggekry. Hy’t gou die Franse flair gevang en ontbyt reggekry met baguette, kaas, saucisson en konfyt. Net die koffie skort.
Ons “chuck-chuck” die pragtige kanaal af. Die plataanbome staan erewag langs die kanaal, al die pad. Dit is oortrokke en kort-kort drup ‘n oorgewig wolk ‘n paar kringetjies op die kanaal se spieelgladde oppervlak. Net 1 sluis tot in die dorpie wat ons vandag wil bereik, Valence d’Agen. Toe ons vasmeer in die kaai, sak ‘n lekker reenbui uit. Ons ‘settle’ in. Dit beteken, ons ‘plug’ ons elektrisiteitkabel in om ons boot se battery te laai.
Kobus maak net die regte ding vir so reendag. Sop van gisteraand se ‘leftover’ ‘hoender in die pot’ En gits, dis nog lekkerder as dit so bietjie gestaan het. Ons eet ons vingers af terwyl dit buite sous. Die sop gee ons moed, en ons bewapen onsself met sambrele en reenbaadjies en vaar die dorp in die gietende reen in.
Die eerste ding wat ons teekom toe ons die dorpie instap met die kobbelsteenstraatjie is ‘n middeleeuse “lavoire’ of washuis wat so half onder ‘n leiklip afdak skuil met ‘n vlak bad waarin ‘n fontein uitborrel. Valence d’Agen het soos meeste dorpies in Europa hierdie tyd van die jaar, haar somerrokkie aangetrek. Om elke lamppaal en op elke vensterbank blom die malvas en die daisies in oodadigheid. Behalwe, vandag is Valence’d Agen se blomrokkie druipnat. Die eeu oue markplein het ‘n dak oor. En ek kan nie help om te staan en wonder in die vlae reen, of dit is omdat dit hier so baie reen nie.
Valence d’Agen is nie net nat nie, maar aan die slaap ook. Al die winkels is toe. Selfs die apteek. Hoe kan dit tog wees? Vra ons onsself. Dit is tog na 2 uur, ons weet alles is altyd toe tussen 12 en 2 op die Franse platteland, maar dis tog nou 3 uur op ‘n Maandag middag. Aaaahhhh!! Maandag! Op ‘n Maandag is alles natuurlik ook toe in Valence d’Agen.
Uiteindelik kry ons ‘n klein Tabac winkeltjie wat oop is. Ankia koop vir haar allerande snuisterye, waarmee sy baie in haar skik is. Ek waag ‘n kans en vra die vriendelike kassiere of daar dalk, net miskien, baie klein miskien ‘n supermark op Valence d’Agen is, wat sal oop wees op, wil jy nou meer, ‘n Maandag middag, dalk?
“Ah oui, Madame! “ kom die antwoord en toe ‘n hele rits aanwysings in Frans. Ons stap uit in die stortende reen en begin aanstryk na die supermark. Ek en Kobus het die Franse aanwysings verskillend geinterpreteer, wat uiteraard lei tot ‘n verskil. Ons traai my pad eerste en “voila!” dis toe die regte pad. My beurt om baie in my skik te wees!
Die supermarche is ‘n lekker groot ene en dis tog te lekker om al die dinge deur te ‘browse’. Ons koop meer as wat ons wou, natuurlik, en toe ons buite kom sous dit behoorlik. Met die swaar sakke suiker ons terug boot toe.
Ons is soppensnat toe ons by die boot uitkom. Na ons onsself redelik uitgedroog het, en getroos het met warm sjokolade en meringues, hou die reen skielik op en die son steek selfs sy kop uit. Ons besluit, ‘n gesinsfietsrit sal net die ding wees om hierdie vakansie dag mee af te sluit.
Ons ry te lekker. Verby ‘n chateau en nog aan en nog aan en net toe ons rerig lekker ver is van die boot, begin dit natuurlik lekker reen! Ons trap maar kry net nie al die druppels ge’dodge’ nie. Ankia stop en kondig baie ernstig aan:
“ Hierdie is die eerste keer wat ek in die reen fietsry in my lewe.”
En toe trap sy weer vir ‘n vale dat daai geel fietsie van haar in die “Rocket” van sy naam verander.
Ons kom nou rerig vir die tweede keer vandag soos ‘n klomp natgereende hoenders by die boot aan. Die Hollanders wat langs ons gemeer is, skud net hulle koppe vir ons terwyl hulle hoog en droog op hulle boot sit en koffie drink.
Dit sukkel om uithangplek vir al die nat klere op die boot te kry en boonop is die belofte van ‘n warm stort onvervuld. Ons begin die giere van ons huisboot Laberoudie ken. Sy maak net warm water as die enjin loop en boonop het sy ‘n piepklein geysertjie so na Jean en Ankia warm gestort het, is ek beloon met ‘n loue en Kobus met ‘n koue een.
Kobus val weg en maak vir ons ‘n Au Gratin met gister se mark se sampioene. Dis heerlik. Ankia eet sommer 3 ‘helpings’ en ons eet Jean se gunsteling nagereg. Creme Brulee in sulke pragtige glasflessies vandag gekoop by die supermarche.
Die Hollanders langs ons word alhoe luidrigter soos die aand aanstap, maar dit pla ons nie veel nie en hulle kuier nie te laat nie. Ons gaan kruip ook vroeg in, want more, as die weer dit toelaat wil ons graag so 6 myl fiets na ‘n middeleeuse dorpie, Auvillar. En as dit reen? Wel, dan ry ons suid tot ons sonskyn kry.

------------------------------

No comments:

Post a Comment