Friday, June 25, 2010

11 Junie 2010, Parys

11 Junie 2010
Word wakker met sonlig wat ‘n streep op die bed gooi. Dis sonskyn in Parys en alles lyk anders. Ons hou reisberaad in die hotelkamer en besluit wat om met hierdie lifelike dag te maak. Ons ‘dodge’ weer die duur hotelontbyt en besoek die boulangerie oorkant die straat. Ankia kies vlatert vir ontbyt, Jean ‘n reuse Viennoise baguette, Kobus ‘n broodjie met ‘n omelette gedoente en ek ‘n klassieke Chocolat au Pain. En met 2 koffies saam kom ons rekening op 9 Euro te staan! Baie te vrede met onsself.

Ons geniet (rerig geniet) hierdie fantastiese ontbyt in die Paryse sonskyn aan die voet van Johann Strauss se standbeeld. Vandag begin die wereldbeker in Suid-Afrika en ons voel die ‘vibe’. Heel lojaal het ons al vier ons Bafana-Bafana hemde aangetrek. Ons maak nogals ‘n ‘statement’ daar aan Johann Strauss se voete en die Parysenaars wat verby loop en ry glimlag vir ons en groet ons met uitroepe van “Afrique du Sud!”.

Ons vang die moltrein(e) na die Louvre. Jean is nou al maande besig om sy eie studie van Egipte te maak. Veral hierogliewe. Waar hy ook al ‘n hieroglief tee kom (in ‘n biblioteek boek of andersins) maak hy noukeurig aantekeninge oor die betekenis daarvan in so swart notaboekie wat hy sy “Egipte boek” noem (wat al meer male soek was!). Die Louvre het een van die grootste antieke Egiptiese versamelings ter wereld. Ek wens ek kon Jean se gesiggie, sy ogies beskrywe toe hy daardie eerste kliptablet met hierogliewe raaksien. Maar net soos ‘n foto nooit die diepte of skoonheid van ‘n uitsig 100% kan vasvang nie, kan my woorde nooit gestand doen aan die blink van sy ogies en die wawyd oop mondjie nie.

Ons sien die mees ongelooflike goed. Ongelooflik is die regte woord, want ek kan dit nie glo nie. Wat ek veral nie kan glo nie, is hoe verwaand of arrogant ons moderne samelewing kan wees nie. Om ooit te dink, ons beskawing is die beskawing van alle beskawings. Toe ek voor die hierogliewe staan, die kunswerke, die wiskundige berekeninge, die juweliersware, besef ek hoe ‘ignorant’ ek is. Ons kyk na verbysterende dinge. ‘n 3500 jaar oue mummie, nog net so netjies in sy doeke toegedraai en sy lewer- en hart- en breinpotjies mooi netjies om sy bedjie gepak! Rameses se beeld (die een van Moses faam) perfek sonder ‘n tjip, sit in sy hoek vir ons en loer. Hy lyk nog steeds suur oor al daai plae.

Ankia raak gou moeg vir al die dinge en ons verbystering. Sy wil net na wat sy besluit het Moses se mandjie is, kyk. En Moses se storie oor en oor hoor.
Dan is daar natuurlik die Louvre self. Die gebou is asemrowend mooi. Die sale met die vergulde frescoes teen die plafonne is vir ons so indrukwekkend dat ons deurstap en skoon vergeet om na die Egiptiese wonders te kyk. Naderhand is ons nekke skoon seer. Ons spandeer die grootste gedeelte van die oggend in antieke Egipte en met seer voete (en nekke) besluit ons, ons besoek aan die Louvre is amper op ‘n einde...maar nie voor ons die beroemde Mona Lisa gesien het nie.

Ons loop deur sale en sale van middeleeuse kuns. Ongelooflik. Die kuns en die sale. Die kinders is verwonderd oor die middeleeuse kuns en vet baba Jesus en mooi Maria. Toe ons by die Renaissance sale kom, is hulle baie verwonderd oordat niemand klere aan het nie en gaan steek vas voor Cleopatra se skildery van die ‘slang wat haar tietie byt”en dit onketen soveel vrae van hoekom, waar en hoe en ek is net dankbaar niemand om my verstaan Afrikaans nie.

Ons sien Titan, Van Dijck, La Croix, Raphael (dit was vir my die mooiste) en natuurlik Da Vinci se kunswerke. Die Mona Lisa is vir my ‘n teleurstelling. Daar sit sy teen die muur, klein en donker. Jy kan nie nader as 10 m gaan nie en daar is hordes mense. Dit is ‘n baie goeie skildery, maar hoekom is dit nou soveel beter as Raphael se ongelooflike meisie in rooi fluweel om die hoek? Was die Mona Lisa die eerste een van ‘n era en dis hoekom? Wel, hoe dit ook al sy, ons het die Mona Lisa in lewende lywe (ons s’n) gesien en dit was ‘n voorreg.

Ons ‘sortie’ deur die duisende mense by die glaspiramide uit. Oppad kyk ons na ‘n ongelooflike kinderwinkel en koop vir die kinders boekies oor Parys en die Louvre. Jean koop vir hom ‘n hierogliewe woordeboek (natuurlik!).

Ons kom in die helder middagson in die pragtige Rue du Rivioli agter die Louvre. Als is mooi aan die straat. Selfs die verkeersligte is gekrul en gefril. Ons eet middagete by ‘n straat cafe en drink ‘n biertjie terwyl Parys by ons verby jaag en die son rustig uit die blou hemel op ons skyn.

Ons stap deur die pragtige tuine van Jardin du Tuilleries na die Place de la Concorde. Die kinders eet roomys terwyl Kobus vir hulle die ‘horrors’ van die Rewolusie en die Guillotine vertel (ter voorbereiding van die Place de la Concorde). Ankia verwag net ons gaan nou koppe sien rol. Na ek die ‘opulence’ amper oordadigheid van die Louvre gesien het, al was dit ongelooflik mooi en om te dink dit was nie mooi genoeg nie, daarom staan Versailles daar in al sy glorie, het ek nogals simpatie met die gepeupel van meelewe se dae by die Place de la Concorde.

Die stap vanaf Place de la Concorde op met die Champs Elysees tot by die Arc de Triomphe se eerste deel is pragtig. Die eerste deel is ‘n wye boulevard met platane en parke aan beide kante. Die tweede deel is die winkel deel en dis besig en vol ryk mense. Baie ryk mense. Mens ruik amper die geld. Mense met baie vinnige en baie blink karre, glitzy straat cafes met vreesaanjaende pryse en mense wat agter groot donkerbrille skuil en sigarette suig. Net ontwerperswinkels met Marie-Antoinette pryse. Dit is iets om te ervaar maar ons ervaring word kortgeknip deur seer voete en ‘n klein dogtertjie wat moeg op die middel van die sypaadjie gaan sit, wat nie van goud is nie, maar eintlik nogals vuil.

Ons wou tot by die Arc de Triomphe gestap het, en ons sien hom aan die onderkant van die straat en besluit dis naby genoeg vir ons. En toe benodig Jean dringend ‘n toilet. Dadelik verseker hy ons. Ons vaar een van die fensie winkelsentrums in. Die vloer is vol liggies, dit lyk soos diamante.

Ons moet 2 Euro opdok vir Jean se besoek. Terwyl ons wag, verkyk ek my aan die klere in die winkels. Ek kyk veral na ‘n rokkie in ‘n kinderklere winkel. Dit is werklik pragtig, alhoewel nie die prys van 500 Euro werd nie, besluit ek. Ek dink aan Heili, wat nou onlangs vir haar modeontwerpkursus ‘n dogtertjierokkie moes ontwerp en ek dog miskien kan ek vir haar ‘n foto neem. Ek kyk rond en sien geen teken wat se geen kameras nie. Ek is seker as mens met jou oe mag kyk, mag mens seker ‘n foto neem. Ek neem ‘n foto vir Heili. Toe wil Ankia he moet ‘n foto van Flaffie neem op die diamantvloer. Ek neem Flaffie af en toe storm die vrou van die kinderklerewinkel uit en skel my uit (nogals in Ingels en nie Frans nie) en verseker my ek en Ankia gaan nou reguit tronk toe as ons nie dadelik spore maak nie. Ankia se oe rek. Ek vererg my en gee vir haar ‘n kyk en bly staan net waar ek staan. Ek staan vas, net waar ek wil en ek dog by myself “Antie, watch it! Net 2 eeue terug het mense soos jy se koppe gerol ‘n paar blokke hiervandaan.”

Ek weet nie of sy my gedagtes kan lees nie, maar sy los my uit. Jean keer gelukkig kort daarna terug van sy 2 Euro besoek. Toe is ons ook klaar met die winkels van die Champs Elysees en ons neem die Metro na La Defense. Kobus wou graag die Grande Arche sien. Dit is indrukwekkend en al kan ons nie opgaan in die gebou nie, is die uitsig van onder die Arche oor Parys belowend.. Dis half vyf en ons sit af terug hotel toe om nog die laaste stukkie van die openingswedstryd tussen Bafana-Bafana en Mexico te sien. Een elk aan die einde.

Ons gaan vier ons Paryse vakansie op ‘n eg Paryse manier. By ‘n bistro ‘n paar blokke van die hotel af. Ons bestel die plat du jour sommer vir almal van ons. ‘n Hoendergedoente met bokmelkkaas en knoffel en die wonderlikste kapokaartappels op hierdie aardbol, met so sousie. Dis daai sousie van die Franse wat altyd die ding doen. Die kinders lek omtrent hulle borde skoon. Terwyl Parys se Vrydagaand spits om ons maal en die son die reuse Chateau oor die pad se stene verglans, kom daar so saligheid oor ons, terwyl ons na die helderblou lug ons kyk en die friskoue Chardonnay teug. Dit was nou ‘n wonderlike dag in Parys. ‘n Regte Parys dag gevul met kuns, kos en mooi dinge. Nou is ons koppe vol gedagtes en ons harte vol herinneringe van ons tyd saam in Parys. More ry ons suid na Agen, na die rustigheid en kalmte van Canal Lateral de Garonne.
------------------------------

1 comment:

  1. Ek lees te heerlik! My lus om Frankryk te besoek word al hoe meer... Ek praat natuurlik nou nie van die "bom scare", tas-slepery en verlore beursie episodes nie - dink nie my senuwees sal dit hou nie - maar die res klink soos 'n droom! Groetnis, Monica

    ReplyDelete