Friday, June 25, 2010

10 Junie 2010, Parys

Vanoggend besluit ons om die duur hotelontbyt te “skip” en broodjies en kaas en koffie oorkant die straat by Monoprix te koop (7 Euro vs 28 Euro). Hulle het so ewe ‘n toonbank en stoeltjies waar jy jou ‘merchandise’ kan verorber net daar in die supermark! Net toe Kobus vir die spulletjie wil betaal is sy beursie soek. Ek werk eers ‘n ‘panic attack’ deur en storm terug hotel toe (na die verstrooide professor daar gaan soek het en niks gevind het nie), slaan die kamerdeur agter my toe en maak verwoed die eerste beste rugsakkie oop om te begin soek. En daar le sy beursie vir my en kyk!! Amper soos ‘n stout kind wat weggekruip het toe hy nie moes nie.

Kobus koop vir my ekstra sterk koffie op die hoek. Die lepel staan sommer regop en ek ook na ek dit weggesluk het! Ons vat die trein(e) na Disneyland. Republique, Chatelet (crazy met duisende mense onder die grond!) en dan Marne de Vallee. Die kinders het so gou ‘metro-wise” geword. Hulle weet net om daai klein kaartjies by watter gleuf in te druk dat die deure oopspring, om aan die regterkant van die trappe te bly, om in en uit te trein te klim en te sorg dat jy wegkom uit die gemaal.
Die kinders geniet Disneyland ongelooflik. Ons ook. Ons speel heeldag saam met hulle in kammaland. Ons ry die Buzz Lightyear rit 3 maal en 2 maal die rockets. Daar is letterlik duisende mense van orals van die wereld. Mens hoor alle tale. Die toue vir elke rit is laaaaaaank. Maar daar is Fast-Pass tickets en dit help baie. Jy ‘book’ jou rit so uur of wat voor die tyd en dan ‘skip’ jy die toue. Al wat dit verg is bietjie beplanning.

Ankia koop vir haar ‘n speelgoedhondjie (soft toy) en so word Flaffie gebore. Flaffie word ‘n ‘instant’ vriendjie wat als saam met haar beleef en hulle het lang gesprekke oor alles. Flaffie moet ook geraadpleeg word watter rit volgende.
Die kinders koop vir hulleself spookasems by “Sleeping Beauty Castle”. Sulke reuse pienkes. Die Franse word vir spookasem is “Barra de Papas” en dit vertaal as “Pappa se Baard”!

Ons ry baie ritte onder andere in reusagtige teekoppies. Ons almal pas in ‘n pienk teekoppie en ons zoei te lekker rond. Daar gebeur die hele dag lank allerhande vertonings en parades die hele plek vol. Ons sien omtrent al die “karaktertjies’ soos Ankia hulle noem. Van ou Winnie tot Mickey en al die res. Jean koop vir hom ‘n horlosie en Kobus vir hom, wat ek sou beskryf as ‘n baie filosofiese T-hemp.

Teen half sewe die aand is ons go uitgejol en ons roep Disneyland vaarwel toe. Dit was ongelooflik vir die kinders. Vir my was dit ongelooflik om te sien hoe hulle hulleself in al die kamma kan inleef. Met die tik-tik van die treinwiele op die rit terug na Parys, kan ek nie help om te wonder waar ek daai ding van “kamma word rerig” verloor het nie. Wat se ding is dit “anyway” en hoekom kan net kinders dit he?

------------------------------

No comments:

Post a Comment