Die laaste minuut pakkery is dol. Daniel vat ons lughawe toe. Daar is omtrent nie ‘n siel in die splinternuwe vertreksaal nie, want wie vlieg nou 12:00 op ‘n Maandagaand Europa toe?
Kobus kry ‘n hoekie en haal sy laptop uit en werk dat die bloubliksems om hom dans om sy laaste werk klaar te kry. Ek hou die kinders besig terwyl ons die 3 ½ ure wag vir ons vlug. Ankia hardloop op en af op die blink granietvloere. Ons drink tee en ek koop vir die kinders elkeen ‘n boek en vir myself.
Uiteindelik kan ons aanboord gaan van die KLM vliegtuig. KLM is “great” en die diens baie goed. ‘n Familie wat ons 2 maande gelede by die Franse ambassade in die wgakamer ontmoet het met die visumaansoekslag, sit net voor ons op die vliegtuig. Jean se eerste woorde toe hy himself in sy vliegtuigsitplek installeer is: “My eie TV, my EIE REMOTE!!! Hoe cool is dit???”
Na haar half twee in die oggend aandete, krul Ankia onder haar kombersie op soos ‘n slakkie onder sy dop, en slaap soos ‘n prinses tot half tien die oggend. My rustige wereldreisigertjie. Die ander wereldreisiger aan my regterkant, gaan in “overdrive” en sy neurale netwerke ‘overheat’ met al die inligting om hom. Hy slaap nie langer as 10 minute op ‘n slag nie en kyk TV en speel “games” deur die nag! Na 3 uur in die oggend, begin ek min omgee hoeveel hy gaan slaap en meer hoeveel ek gaan slaap. Ek laat hom maar begaan en al weet ek, more gaan ons ‘n moeilike “customer” he.
Amsterdam lughawe is besig, effektief en vol interessante winkels. Ons moet 2 ure wag vir ons vlug na Parys. Jean wil net sy Rande, waaraan hy maande lank al spaar, vir Euros ruil. En daarna wil hy net geld uitgee. Kobus koop vir ons heerlike Douwe Egberts koffie en ek kry nuwe parfuum. Ons vlug na Charles de Gaulle is leeg en kort. Ons kry ons tasse tjoef-tjaf en is so bly om hulle weer te sien...vir ‘n baie kort rukkie, net tot waar ons die trollie moet los. Toe moet ons self sleep. By roltrappe op en af en al ons verdere reise deur Charles de Gaulle lughawe, want ons verdwaal lierderlik. Soveel so, dat ek begin wonder of ons al ses weke hier gaan deurbring en nooit Parys gaan sien nie, nevermaaind die boottrip op die Garonne rivier!
Toe ons by die stasie ‘surface’ om die trein na Parys te kry is daar ‘n ‘bomb scare’! Die gendarmes met hulle masjiengewere sak op ons toe en ons mag nie meer die hysbak vat nie. Ons kyk na ons pakkaas en ons kyk na sy masjiengeweer, waar hy op wag staan voor die hysbak. Ons besluit maar liewers nie. Ons sal maar eerder die kans vat en dalk eerder aan tassleep sneuwel as aan veelvoudige skietwonde. Terwyl ek my tas na die volgende terminaal sleep, dink ek dalk was dit ‘n fout. Die skietdood is vinniger.
Ankia steek vas voor ‘n lang roltrap omdat ek nie haar hand vas hou nie. Maar ek het nie ‘n hand om hare mee vas te hou nie, want ek hou net tasse vas. ‘n Vriendelike Fransman kom hou Ankia se hand vas en begelei haar na onder.
Ons vra ‘n gendarme, maar waarheen nou, as die stasie ‘gesluit’ is. Hy help ons verkeerd na Terminaal 1. Ons land in ‘n oorvol trein sonder ‘n bestuurder na Terminaal 1. By Terminaal 1 is daar geen trein na Parys nie, wel baie vlugte na ander plekke as Parys! Ons ry weer in die bestuurderlose trein na Terminaal 2 en staan in die langste tou om Metro kaartjies te kry. Die gendarmes maal om ons met hulle “guns”, en ek is net so bang hulle besluit om hierdie stasie ook te sluit.
Dis al amper half 5 toe ons uiteindelik die trein na Parys toe kry. Dis ‘n rowwe trein,vol rowwe mense. Buite Parys is daar baie arm woonbuurte. ‘n Vriendelike man waarsku ons om nie ons pakkaas alleen daar in die voorkant van die wa te laat staan nie, want op die stasies, kan iemand die tasse gryp. Ek dog, dit wil ek nog sien. Die skelm sal nog so gryp om gou te gryp, dan ruk sy arm uit sy pootjie met daai gewigtige tasse. Die trein is oorvol en die mensreuk is sterk. Ons tref Gare du Nord (‘n groot stasie in Parys) in spitstyd half ses. Baie mense. Haastige mense. En ons wat nie weet waarheen nie of hoe nie met 2 moee kinders en 4 groot tasse in tou. Trappe op. Hier is nie hysbakke nie. Hier is nie eers roltrappe nie!! 3 keer help vriendelike Parysenaars my om my tasse by trappe op te kry. Al die baie mense, laat my kop uithaak en ek se vir Kobus, ek ry nie met die moltrein tot by ons hotel nie, met al hierdie mense en hierdie groot tasse nie. Kobus se, wel dan moet ons maar ‘n taxi vat. Die vrees van die taxi fooi aan die eenkant en die skares haastige Parysenaars aan die anderkant, maak die keuse bitter moeilik. Ek kies die Parysenaars en die afgrond na die moltreine toe.
Uiteindelik ‘surface’ ons in daglig by “place de la Republique”. Daar is so baie strate, en karre en mense en die mooiste geboue. Ons staan eers en vergaap onsself so bietjie en dan begin ons tasse sleep. Die Google kaart wat ek so sorgvuldig by die huis uitgeprint het, help ‘bokkerol’. Ons verdwaal. ‘n Vriendelike Franse tannie, merk dat ons soos ‘n verdwaalde spulletjie lyk en die kinders lyk moeg. Sy vra of sy ons kan help, is ons dalk verdwaal. Ons reken ons is en sy vra na watter straat ons soek. Sy wys ons daarop dat ons in die verkeerde straat is (met 3 letters en omtrent 3 blokke!).
Ons sleep die tasse (en die kinders) tot op die naaste hoek, waar ‘n pattiserie aan Jean groot genot verskaf in die vorm van die Franse doughnuts. Sulke klein, nie te soet, oliebolle. Kobus gaan op sy eie ‘scouting party’ om die hotel te vind. Ek en die nou taai kinders en die pakkaas bly op die besige hoek van ‘n Paryse straat staan, terwyl die res van Parys met hulle lewens aangaan. Koos keer terug met die blye nuus dat hy suksesvol was in sy missie. Die hotel is op die ou end nie eers 100 tree van waar ons oorspronklik ge’surface’ het nie!
Maar daardie laaste 100 tree was die moeilikste. Net toe my arms en die kinders besluit, nou nie meer ‘n tree verder nie, is die hotel voor ons.
Die hotel is oud en die kamer maar klein, maar die mense is vriendelik en die kamer silwerskoon. Ons bly in die dakkammer en kyk uit oor Parys se dakke al om ons. Na afpak en in’settle’en ‘n salige stort sit ons af na die Franse weergawe van ‘n ‘Spur’. Buffalo Grill het absoluut niks in gemeen met die Spur nie (tot ons verligting!). Die diens is goed en die kos uit die boonste rakke. Die tema is “Americiane” maar hulle sukkel. Hulle kan nie help om die burger met die lekkerste, varste, groenste boontjies en die wonderlikste mosterdagtige sousie te bedien nie. Ons eet te lekker. Ons is moeg en sat. Veral die kinders en dis vinnig droomland toe na ete.
No comments:
Post a Comment