Word wakker met die Paryse stadsgeluide deur die oop venster. Karre wat ry, ‘n sirene wat loei, iemand wat iets in Frans roep, voetstappe op die kobbelsteenstraat en ek weet ek is in Parys! Te goed om waar te wees! Ek kyk by die venster uit oor al die loodgrys dakke. Hulle is nat. Dit reen in Parys.
Die “onwettige’ (vir my) hotelontbyt van ‘n croissant en baguette maak nie eers ‘n “blip” in my bloedsuiker nie, want Parys is ‘n “workout”. Stap tot by die metro, al die trappe op en af in die metrostasies en dan hol om ‘n trein betyds te vang. En toe nog die 600 ‘odd’ trappies op (en af!) van die Eiffeltoring.
Dis somer in Parys. Die bome is groen en die park aan die voet van die Eiffel toning wink ons na onder vir ‘n piekniek, met die appels wat ons vanoggend by Monoprix (die supermark oorkant die hotel) gekoop het. Monoprix was ‘n belewenis op sy eie. Net om na al die rakke kos te staar en die een ding lyk lekkerder as die ander ding en so wye keuse. Hoe kies mens? Ons het daar ook vir die kinders ‘n pakkie “Monster Munch” gekoop. Ek dink nie daar’s sulke chips in Suid Afrika nie, want dit verander die kinders in onmiddelike monsters. Chip monsters. Ankia het dit so verruklik gevind en wou net heeldag weet, nou maar wanneer gaan koop ons weer Monster Munches?
Met die daling na benede van die Eiffeltoring, begin daar ook ‘n goeie reenbui oor Parys uitsak. Die piekniek lyk nie meer soos so goeie idée nie en die park het ‘anyway’ opgehou wink. Ons trek ons reenbaadjies aan en eet ons appels op ‘n bankie op die Seine se kaai. Kobus gaan vind uit wat kos kaartjies vir ‘n bootrit op die Seine, want dit lyk nou na ‘n goeie idée om snoesig op ‘n boot te ry en vir Parys deur die reen te kyk. Die bootkaartjies is egter peperduur en die idée blaas stoom af soos ‘n warm ballon. Hulle verkoop net dag kaartjies en ons wil defnitief nie die hele dag op die boot wees nie. Ons troos onsself met koffie en wafels en pannekoek by ‘n cafe op die kaai. Ons skuil onder die cafe se afdak terwyl die reen neersif.
Toe die laaste krummel wafel opgeeet is, val die laaste reendruppel ook en ons sit af na die Metro om na die Musee de Orsay te gaan. Terwyl ons by die besig pad in ‘n plas water staan en wag, met hordes toeriste wat om ons maal en karre wat toet vra Ankia: “Wat maak ons hier?”
My antwoord: “ Ons het Parys toe gekom om al die wonderlike goed te sien wat mens hier kan sien” was nie genoegsaam nie. Maar toe ek by voeg “en om vir jou Monster Munches te koop:” was sy te vrede.
Van Gogh se skildery van die kerk by Angers het die wag in die lang tou in die reen om toegang tot die Musee de Orsay te verky, die moeite werd gemaak. Al is dit al wat ek in Parys kom sien het. Ons sien die mooiste kuns. En ons vergaap ons aan die pragtige gebou en die goue horlosie voor ons nog enige kuns raaksien. Daar is so baie om te sien, maar ons besef gou, ons moenie alles probeer sien met ‘n 6 en 9 jarige wat gister ver gevlieg het en ver gestap het nie. Al waarna hulle heeltyd wou kyk is die reusagtige skildery van Rome se dekadensie. Dit het hulle mateloos beindruk, amper soos ‘n “comic strip”, sien hulle elke keer nog ‘n stoute Romein raak wat iets vreesliks doen! Ek en Kobus besef ons besoek aan Musee de Orsay staan ongelukkig op ‘n einde toe Ankia amper net daar op ‘n trappie amper aan die slaap raak. Dit was al 4 uur in die middag en ons dog dis maar beter om die middag spits op die Metro te probeer mis en sit af met ‘n vaart na die tonnels onder Parys. Net na 5 terug by die hotel.
Ons eet ‘n versnaperinkie en ‘n fantastiese glasie Rose, vriendelik verskaf deur Monoprix oorkant die straat en die kinders kyk Franse kinder TV en eet monster munches. Ek skryf joernaal en Kobus probeer inhaal oor wat hy nou net beleef het by Musee de Orsay deur sy gidsboek oor die museum te lees.
Ons aandete is by ‘n Thai restaurant naby die hotel. Wonderlike kos. Ek eet eend en die kinders noedelsop. Kobus bestel “le Menu de Maison’ met onder andere ‘cuttle fish”. Ons wil ons doodlag vir hulle Engelse vertaling van die spyskaart (baie bedagsaam verskaf aan mense met vrot Frans soos ons). Die vertaling vir “Gallete de Poisson Fritz’ is “Fired Fish Fart”!!
------------------------------
No comments:
Post a Comment